Daardie Troudag “Glans”

Gekryf deur: Make-up by Tania K 

Vandat ek ʼn klein dogtertjie was, het ek oor my troudag gedroom. Ek het my verbeel ek lyk soos ʼn feëprinses met die mooiste balrok aan, met hare wat blink en grimering wat glinster.

Elke bruid wil soos  ʼn prinses lyk, daarom gaan ek  ʼn paar wenke deel waarmee jy natuurlike glans op jou spesiale dag kan bereik.

Inwendig

Jou vel is jou grootste orgaan en spreek boekdele van wat binne-in jou liggaam aangaan. Daarom is ʼn gesonde dieet en oefening van kardinale belang in ons daaglikse leefstyl. Oefening help jou om ontslae te raak van spanning en skei endorfiene af wat jou gelukkig laat voel.  ʼn Oefensessie van slegs 20 minute per dag is genoeg.

Drink elke dag ten minste agt glase water; dit hidreer en suiwer jou vel en kan ook help met gewigsverlies, sou dit ʼn fokuspunt wees vir jou troudag. Neem foliensuur asook vitamienaanvullings om inwendige gesondheid te handhaaf.

Aanvullings soos Omega 3-olies bevat essensiële vette wat ons liggaam nie self kan produseer nie. Ons epidermis gebruik hierdie olies as  beskermingslaag om te verhoed dat die vel vog verloor.

Kollageen is noodsaaklik vir algemene inwendige gesondheid. Die menslike liggaam produseer kollageen natuurlik, maar soos ons ouer raak begin die produksie daarvan afneem. ʼn Studie het bevind dat vroue wat agt weke lank kollageenaanvullings gedrink het, ʼn verbetering in die elastisiteit en bevogtigingsvlak van hulle vel kon sien.

Uitwendig

Velsorg is baie belangrik en ek stel voor dat jy minstens ses maande voor jou troudag met velbehandeling begin.

Alles begin by tuisversorging:

  • Was twee maal ʼn dag jou gesig met ʼn goeie gesigwasmiddel wat nie jou vel uitdroog nie.
  • Kry ʼn dagroom wat vir jou veltipe werk.
  • Smeer daagliks sonskerm aan voor jy jou grimering aanwend.
  • ʼn Nagroom moet ekstra vogtig wees om jou vel deur die nag gehidreer te hou.

Jou skoonheidsterapeut sal velbehandeling t.o.v. jou veltipe met jou bespreek. Salonbehandelings is nie altyd bekostigbaar nie, maar tuisgemaakte afskilfer- en velmaskers kan ook gebruik word:

  • Aromaterapie en essensiële olies is ʼn eeue-oue geneesmiddel wat elke vrou definitief by haar daaglikse skoonheidsroetine kan inwerk.
  • ʼn Fantastiese velskropmiddel kan van sederhoutolie en koeksoda gemaak word.
  • Laventel-, olibanum-, suurlemoen- en copaiba-olie is uitstekend vir velbehandeling en bewerkstellig die genesing van verskeie veltoestande.
  • Goeie tuisgemaakte maskers is die eierwitmasker of heuning-en-olyfoliemasker. Ek stel voor dat jy die QR-kode skandeer vir die resep.
  • Jou gesig en lyf kan tot tweekeer per week afgeskilfer word vir die beste resultate.

 

Hare

Versorg jou hare tuis met gesonde produkte of tuisgemaakte maskers as jy nie eenkeer ʼn maand die salon vir ʼn behandeling kan besoek nie. Enige haarverwydering op jou gesig moet minstens ʼn week voor jou troudag gedoen word sodat daar tyd is vir genesing, sou die vel tydens ʼn waksbehandeling uitslaan of seerkry. Mag hierdie paar wenke elke bruid help om daardie natuurlike glans te verkry en almal se koppe op die groot dag te laat draai.