Geskryf deur Modern Day Craftsman – Stefan Erasmus

Hoe pas mansbykomstighede in by ’n moderne troue? Dit is soos ’n goeie advertensie: ‘n Mens weet nie mooi hoe alles bymekaarkom nie, maar dit lyk indrukwekkend en sodra daar iets uit plek is, sal ’n mens dit vinnig raaksien. Net so kan die bykomstighede dieselfde effek hê op die bruidegom en strooijonkers se uitrustings: Dit kan hulle voorkoms maak of breek. 

Verby is die dae van grys, swart of bruin kouse. Met modeneigings wat teen die spoed van lig verander, is ons gelukkig om ’n magdom keuses te hê wanneer dit by bykomstighede kom; dit laat die bruidegom en strooijonkers toe om hulle persoonlikhede op die groot dag uit te leef. As iemand dus pynappel- of emojisokkies wil dra, kan hy, maar die bruid behoort haar vinger op die pols te hou, anders mag die mans dalk die dam onder die eend uitruk.

’n Nuwe modeneiging is dat strooijonkers en die bruidegom nie noodwendig eenders hoef te lyk nie. Dasse, strikdasse, kruisbande en mansjetknope is tydloos en die algemeenste bykomstighede. Laat die bruidegom en strooijonkers hulle eie kleur kies vir hulle kouse en dasse. ’n Goeie plan is om op ’n kleurpalet te besluit en dan kies hulle uit daardie kleure, sodat ’n mens nou nie met al die kleure van die reënboog sit nie. Wanneer dit by die keuse van bykomstighede kom, kan ’n mens groot gaan en jou verbeelding en persoonlike smaak ten volle tot uiting laat kom. ’n Goue reël is dat alle leerbykomstighede in ’n bypassende kleur moet wees. Dit vang dadelik die oog en verleen daardie ekstra tikkie elegansie aan die uitrusting. Nog ’n manier om uniek te wees, is om Marvel-mansjetknope te kry wat soos julle gunstelinghelde lyk

Terwyl alles stadig maar seker besig is om na normaal toe terug te keer na die pandemie, gaan dit troupaartjies weer die vryheid  gee om hulle kreatiwiteit uit te leef. Wat ’n wonderlike gedagte!

 

Ten slotte: Elke persoon het hulle eie smaak wanneer dit kom by ’n uitrusting. Daar word soms gevra dat lede van die bruidsgroep self moet bydra, byvoorbeeld vir skoene of dasse. Hulle gee natuurlik nie om nie, want almal is gewoonlik óf familie, óf baie goed bevriend. Vermy tog net die matriekafskeidscenario! Daardie pak word nege uit die tien keer net daardie een aand gedra en nooit weer nie. Probeer iets kies wat hulle weer sal kan dra of wat waarde tot hulle klerekas toevoeg; dan dra hulle met ’n glimlag by.