Geskryf deur: Best Day Ever
Geskenke is nog altyd ’n ideale manier om iemand spesiaal te laat voel of dankie te sê, maar gedurende die laaste paar jaar het geskenke in die trouindustrie ’n hele afsonderlike, kompeterende mark vol verrassings geword. Ons loer bietjie na die nuutste modes en hoe jy jou geskenke iets besonders kan maak, wat vir dekades en nog langer onthou sal word.
Bruidegom
Dit is tradisie dat die bruid op die troudag ’n geskenk aan haar bruidegom gee. Alhoewel die trouringe wat die paartjie ruil as geskenke beskou kan word, kies talle bruide om hulle bruidegom te vereer met ’n ekstra geskenk wat by sy persoonlikheid pas.
Indien jy besluit om jou bruidegom op julle troudag met ’n geskenk te bederf, is dit belangrik om ’n geskenk te kies wat hy sal geniet en waardeer. Iets soos ’n fotoalbum wat julle reis van die begin af tot nou toe kortliks opsom sal sy hart verbly.
Gevolg
Dit was waarskynlik baie uitputtend en tydrowend vir die bruidsmeisies om te help met al die voorbereidings vir die troue, en hulle verdien natuurlik ook ’n geskenk as beloning vir hulle moeite en harde werk. Versierde geskenkboksies is deesdae hoogmode, hetsy dit ’n boks is wat jy by ’n betroubare verskaffer bestel het, of een wat jy met jou eie kreatiwiteit aanmekaargesit het – dit is ’n moet! Die inhoud kan bestaan uit iets prakties wat jou bruidsmeisies na die tyd weer kan gebruik soos ’n slaapstelletjie, parfuum, oorbelle, of lekkerruikbadgoed wat beslis ’n wenner is.
Unieke geskenkidees vir die bruidsmeisies kan ook van jou troutema afkomstig wees. As jy byvoorbeeld ’n troue met ’n strandtema hou, kan jy ’n geskenk soos ’n strandsak, strandhanddoek en sonbril gee om op die strand te geniet. Hierdie unieke geskenkidee sal verseker dat jou troue onthou word elke keer as hulle dit gebruik.
Dankiesê-geskenke
Gegraveerde sjampanjeglase, gegeurde kerse en ander mode-artikels is reeds afgesaag en ’n ekstra koste vir die bruid en bruidegom. ’n Spesiale handgemaakte sepie lyk miskien na ’n uitstekende idee vir die paartjie wat lief is vir so iets, maar die meeste van die gaste sal dalk nie dieselfde waardering daarvoor hê nie.
’n Goeie wenk is om iets eenvoudigs te kies. ’n Sleutelhouer met die gas se naam op of ’n koffiebeker met ’n foto van die bruidspaar sal mooi binne jou begroting pas. ’n Duurder maar praktiese geskenk sal ’n snybord wees: iets wat jy op jou troudag kan gebruik en dan ook as geskenk saam met jou gaste huis toe kan stuur.
Ouergeskenke
Ouers speel ’n baie belangrike rol in ons lewens, van die oomblik wat jou oë oopgaan tot op die dag waarop hulle jou aan jou droomman oorhandig, en natuurlik daarna ook. Hulle beplan gewoonlik net so hard soos jy aan jou spesiale dag en jy wil hierdie geleentheid gebruik om vir hulle dankie te sê en hulle daaraan te herinner dat hulle, ongeag wat, altyd vir jou net so belangrik sal wees.
’n Geborduurde sakdoek met ’n spesiale boodskap is ’n lieflike (en nuttige) geskenk, asook iets spesiaals, soos ’n halssnoer of oorkrabbertjies.
Om die perfekte geskenk vir die perfekte persoon te kry kan soms ‘n uitdaging wees. Probeer om te hou by iets persoonliks – daarmee kan jy nie verkeerd gaan nie. Indien jy nie ’n kreatiewe haar op jou kop het nie, is daar meer as genoeg betroubare verskaffers wat graag sal help om hierdie eenvoudige takie op jou lysie af te merk.