God se tyd…vir die enkelvrou/-man

Geskryf deur Madelé Klingenberg (Nelson)

Soos baie ander vrouens het ek van kleins af gedroom oor my “sprokiesprins”, die een uit wie se ribbebeen ek gevorm en gemaak is, maar hy wou net nie opdaag nie.

Ek het ’n baie nou pad met God op die reis gestap. Soms het ek gewens die stemmetjie binne-in my kon stilgemaak word, want gou het ek geweet  wanneer ’n deur kon oop bly of toegemaak moes word. Soms het ek die stemmetjie self probeer stop, maar God se plan het altyd uitgespeel, of ek dit op daardie oomblik wou insien of nie.

Na “200 eerste koffieafsprake” kan ek terugkyk en sien hoe God nie net daar was met elke ontmoeting nie, maar hoe Hy in beheer was en my geleer en gevorm het. Ek wil met elke enkelvrou/-man die volgende lesse deel:

1. Jou belangrikste afspraak is met God

As jy God eerste stel in jou lewe, sal Sy plan en Sy tyd vir jou ’n werklikheid word (Matt 6:33). Onthou, God beplan vir jou meer as wat jy kan dink of droom (Ef 3:20). Bou ’n verhouding met God en sit aan Sy voete. Leer Hom ken en luister fyn na Sy wil vir jou. Bid gedurig.

2. Leer om geluk in jouself te vind

Geen man, aardse besittings, mag of geld kan jou gelukkig maak nie; vind jou geluk in God. As iemand jou pad kruis, sal hy/sy hierdie eienskap  koester en waardeer. “…as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm” (Neh 8:11).

  1. Luister na Sy stem

Ons dien ’n God van Liefde; Hy praat op verskeie maniere met ons. Almal hoor Hom op verskillende maniere. Soms praat Hy deur mense of die natuur. Een ding is seker: vrees, twyfel, manipulasie, afbreking en geweld kom nie van God af nie. Luister dus na Sy stem en slaan ag op rooi ligte wat jou waarsku! Dit is nie jou werk om iemand anders te verander nie; verandering kom van binne.

4. Weet wat Hy vir jou beplan

As jy onseker is oor God se plan vir jou, gaan soek dit in sy Woord. Sy Woord is die waarheid waaraan ons kan vashou; ons kompas en padkaart vir die lewe. Hoe meer tyd jy in Sy teenwoordigheid deurbring, hoe duideliker word Sy plan vir jou. Hy beplan vir ons voorspoed, ’n toekoms, ’n verwagting. Glo dit!

5. Omring jouself met gesonde verhoudings

Die beste leerskool is ander se voorbeeld. Kyk waarvan jy hou in jou vriende se huwelike en verhoudings. Stel doelwitte vir jou toekomstige verhouding en bid daarvoor. Die liefde is blind. Ons stel onsself soms bloot aan verkeerde verhoudings of tyd met verkeerde mense, want o, die alleenheid is erg. Vertrou jou binnekring se raad en toets dit met God se Woord. Alleen en gelukkig is baie beter as in ’n verhouding en ongelukkig.

  1. Bou ’n sterk verhouding van Vertroue en Vriendskap (VV)

Enige verhouding het ’n sterk “VV” nodig…Vertroue en Vriendskap. Bou aan julle vertrouensverhouding. Bly by jou woord en doen wat jy sê jy gaan doen. Wees eerlik en nederig teenoor mekaar, deel jou hart. Vertroue is die grondslag van ’n gesonde en gelukkige verhouding, en dan natuurlik vriendskap. Die beste en lekkerste is ’n gesonde vriendskap.

  1. Het die persoon die eienskappe wat jy eendag in jou kinders wil sien?

Jou afspraak is met jou toekomstige kinders se pa/ma. Is dit die persoon wat jy langs jou wil hê? Die keuse van ’n lewensmaat is belangrik. Jy kies nie net namens jouself nie, maar ook namens jou kinders (as dit God se plan vir julle is) − gebruik jou verstand.

  1. Is dit ’n opbouende of afbrekende verhouding?

Die regte verhouding sal jou sterk eienskappe uitlig, dit sal jou laat blom. Jy sal ontdek dat jy “meer mens” is. Die verkeerde verhouding vat weg, sny uit en maak jou “minder mens”. Dit is ’n eenvoudige som: is die verhouding ’n plus in jou lewe, of ’n minus?

  1. Julle moet saam kan lag

Die lewe is kort, maar soms bitter lank. Dit is so lekker om ’n maat te hê saam met wie jy kan lag, grappies maak en die lewe geniet. Boonop het lag baie ander voordele soos meer endorfiene (die goedvoel-hormoon), jy verbrand meer kilojoules, jou gesondheid word bevoordeel… lag gerus meer.

  1. Beoefen jou stokperdjies

Kies wie en wat jy toelaat om jou “storie” te bepaal, waarmee jy jou brein en kalender vul (waar die hart van vol is, loop die mond van oor). Kry ’n passie vir iets, byvoorbeeld sport/kultuur/lees/reis, en deel  die elemente daarvan met jou maat.

Terug by my…

Na  my “200 eerste koffieafsprake”, waar ek dikwels sake en planne in my eie hande wou neem, gee ek oor. Ek het die stuurwiel aan God oorhandig: “U plan Here, nie myne nie, en as U nog ’n rukkie aan my of my  man wil werk, om sy regte “ribbebeenvrou” te wees, dan wag ek.” Die besluit  het werklik innerlike vrede in my lewe gebring.

Na vele mislukte verhoudings en ’n klomp lesse vertel ek my familie dat ek sowaar ’n boek gaan skryf, met die titel, “200 Eerste koffieafsprake”. Ons almal was dit egter eens dat so ’n boek nie kan werk sonder “En hulle was vir altyd en altyd gelukkig” nie.

Twee maande na my besluit om die stuurwiel aan God te oorhandig, verras Hy my…

Dié dag, soos elke Sondag, pak ek die pad kerk toe alleen aan. Voor my (in my eie kerk) sit daar ’n man wat my vriendelik groet, maar ek lees nie veel  in die gebaar nie. Na die diens haas ek myself huis toe en vertoef net ’n oomblik om my waterbottel in die asblik te gooi. Uit die hoek van my oog gewaar ek die man wat voor my gesit het, waar hy oor ’n paar rye stoele spring…(dalk haastig op pad na sy vrou en kinders? wonder ek). En toe, by die asblik, vind ek hom, ontmoet ek my man (dankie tog, geen ander vrou se man nie) − meer as wat ek ooit kon dink of droom.

Ons is 11 maande later getroud…wat God beplan is regtig beter as ons eie planne. Die lysie (wat soek ek in ’n ideale man) waaroor almal my geterg het, is afgemerk, van bo tot onder. Die belangrikste karaktereienskap op my lysie, ’n man wat God eerste stel, is bewaarheid.

Ek sal nou moet voortgaan met die skryf van my boek, “200 Eerste koffieafsprake”,  want my gelukkige einde oortref alle verwagtinge! In my boek sal ek graag ander enkellopendes wil bemoedig en vergesel op hulle spesiale reis terwyl hulle wag vir die regte persoon. Maar nou, in die regte lewe, geniet ek my “200+ afsprake” met my man…ons het immers baie om in te haal.

Wag in vrede! Geniet die koffies van die lewe, in vele vorms en geure, en besluit watter een is jou gunsteling.