Paper Couture Stationery SA
Ané Lottering
Daar is opgewondenheid wanneer ’n paartjie op hulle troudatum besluit. Belangrike reëlings en ‘n fyn uitgewerkte begroting wentel rondom dié datum. Daar is ook ’n jaarlikse vrolike feesviering om die liefde van daardie dag te gedenk. Indien jy, soos ek, ’n volgeling van die Romantiek is, toon jy waardering vir die wyse waarop jy jou gaste na dié geleentheid nooi.
Uitnodigings word gebruik om gaste te verwelkom en inligting te gee, en vir baie mense (veral ma’s en oumas) word dit ’n aandenking aan die dag. Die ontwerp en gehalte skep vir jou gaste ’n eerste indruk van jou jubelfees. Oe, en is dit nie mooi nie?
Stel jou gaste in kennis van die datum deur ’n teken-die-dag-aan-nota te stuur. Gaste wat moet reis, verlof beplan of wil spaar vir ’n manjifieke trougeskenk kan hulle reëlings tref. ’n Digitale formaat is gewild vir teken-die-dag-aan, omdat mense vandag hoofsaaklik telefonies of oor sosiale media gesels. ’n Digitale nota word onmiddellik ontvang en is maklik om te wysig indien die huidige pandemie ‘n datumverskuiwing noodsaak. Prikkel steeds jou gaste se sintuie deur animasie, beeldmateriaal en musiek te gebruik.
Tussen tien weke en vier maande voor die troue kan jy formele uitnodigings stuur sodat gaste fynere details soos verblyf en uitrustings kan beplan. Hoe moet die bruidspaar kies tussen papierkaartjies, webblaaie en Meksikaanse Mariachi-orkeste om hulle gaste te nooi? My raad is: 1. besluit op ’n kleurskema of tema; 2. raadpleeg die internet en kyk na idees. Julle sal vinnig besef waarvan julle hou. Nader dan ’n ontwerper as jy sulke dienste benodig. Kyk na die gehalte van hulle vorige projekte. Vra kwotasies aan om te bepaal of so ’n diens binne jou begroting val. ’n Goeie ontwerper sal leiding neem, raad gee oor bewoording, ’n unieke kreatiewe stempel afdruk, maar ook verseker dat dit nie afdwaal van jou visie nie.
Tendense is om reghoekige kaartjies met verskillende vorms te vervang. Waterverf en handgeverfde details is al hoe meer in aanvraag. Kaartjies word in lae saamgestel met linte, tossels en pennetjies. Interessante materiaal soos staal, hout en perspeks is gewild. Dieselfde geld natuurlik vir die drukwerk wat by die troulokaal gebruik word. Dit dien as dekorelemente en gee ook belangrike inligting deur. Met al die reëlings in gedrukte vorm is dit maklik vir gaste om die verloop van die program te volg, hulle sitplekke te vind en die kroegreëlings mooi te verstaan.
Ek is gaande oor die talle wyses waarop drukwerk en bykomstighede nou as dekor gebruik word. Plakkers word gemaak vir wynbottels en aandenkings. Viniel word gesny en gedruk om die mooiste persoonlike hemde en hangers te maak. Daar is lopers, tafeldoeke, baniere en geskenke. Roosblare word met kunstige papiertjies as konfetti vervang. Koeverte word in die pragtigste delikate vorms gesny.
Die goeie nuus vir die bruidspaar is dat daar al hoe meer ontwerpers en kunssinniges is om jou by te staan. Daar is opsies wat elke sak pas.
Vorm jou visie, beplan lekker vroeg, en geniet elke oomblik terdeë − dit vlieg regtig verby!