Kiss n Bliss
Philna Coetzee
Het jy al ooit daaraan gedink dat gedrukte troukaartjies op ’n tyd nie bestaan het nie, of dat ons iets soos digitale trou-uitnodigings sou kon hê? Soos met alles in die lewe, is daar ’n eerste keer. Gedrukte troukaartjies is in die 1800’s vir die eerste keer gebruik. Digitale trou-uitnodigings het natuurlik ontstaan soos wat die tegnologie baie jare later verbeter het.
In hierdie ongelooflike lewe waar daar elke dag ontwikkeling plaasvind, word drukwerk nooit oud nie, maar die gewildheid van digitale trou-uitnodigings neem al hoe meer toe. Daar is ’n paar redes hiervoor. Mense hou daarvan om dinge op die effektiefste manier gedoen te kry; waarom dit dan nou nie op ’n maklike en gerieflike manier doen, met ’n stylvolle, kleurvolle blad wat vir jou gaste al die nodige inligting gee nie? Behalwe dat jy geld spaar deur nie die uitnodiging te laat druk nie, kan elke genooide op die platform antwoord, wat alles vir jou as bruid aansienlik makliker maak.
Verlowingsfoto’s is vandag ’n moet! Dit speel ’n groot rol in die gevoel van jou digitale uitnodiging. Dit skets julle as paartjie se persoonlikhede en maak die gaste deel van die begin van julle storie.
’n Digitale trou-uitnodiging kan as ’n ryk bron van inligting oor jou en jou bruidegom se spesiale dag dien. Dit is nie net gerieflik vir jou as bruid nie, maar ook vir jou gaste. Hulle kan maklik die nodige inligting kry deur die gebruik van hulle selfoon, antwoord wanneer hulle reg is, en oulike idees deurgee aan jou, soos hulle gunstelingliedjiekeuses, om nie eens te praat van toegang tot akkommodasiereëlings en veel meer voordele nie.
Natuurlik moet ’n mens nie van gedrukte troukaartjies vergeet nie. ’n Kaartjie wat spesiaal aan iemand as gas uitgemaak is, sal altyd ’n eer bly. Eintlik is dit ’n spesiale ervaring: die gevoel van die papier in ’n mens se hande, jou oë wat die mooi kunswerk waardeer. Hier word die inligting wat die bruid op een slag aan haar gaste kan uitstuur, egter beperk. Die grootste rede om minder inligting op die gedrukte uitnodiging deur te gee, sal wees om die koste van die drukwerk te verminder. Dit beteken dan dat alle addisionele inligting deur middel van ’n ander platform aangestuur moet word.
Dit is egter geen rede om nie gedrukte uitnodigings te gebruik nie. Dit bly steeds ’n nostalgiese ervaring om ’n troukaartjie oor die pos te ontvang, wat hierdie allerbelangrike uitnodiging in sierskrif op mooi papier aan die bevoorregte gaste rig.
Digitaal of gedruk; hierdie uitnodiging is die begin van julle huweliksverhaal. Saam begin julle die groot oomblik vier, saam deel julle die opwinding en tel die dae af.