VERLIEF TOT VERLOOF

Onderhoud met Mila Guy

Wat het jou laat besef jy is verlief op Bennie Fourie?

Sjoekels, ek het lank gevat om te besef ek is verlief op hom, maar dit was sy menswees. Hy is so ’n mooi mens; hy aanvaar my vir wie ek is, dwarsdeur my seer, en hy laat my die moeite werd voel. Ek het lank gebid oor Bennie, oor ek hom laat verstaan het dat ons net vriende kon wees, en ek het die Here gevra om die skille van my oë af te haal, sodat ek Bennie kon sien vir wie hy is en dat Hy die vrees sal wegneem, as Bennie die man vir my is. Binne ’n week het die Here dit vir my gedoen en op 22 Mei 2022 het ek Bennie gesien vir wie hy is. Hy is ’n sterk, lojale man, met die mooiste hart, en ek weet hy sal my altyd soos ’n prinses laat voel en hanteer, en die belangrikste ‒ hy is lief vir die Here.

Hoe het julle grondslag van vriendskap ’n rol gespeel in julle verhaal?

Ons vriendskap het ’n baie groot rol gespeel; ons het van 2017 af langs mekaar gewoon, en ons was beste maats en bure. Ons het mekaar deur die goeie en slegte tye gesien. Daar was tye dat ons wou probeer om meer as vriende te wees, maar dan het ek elke keer bang geword, en het dan ons verhouding net op ‘n vriendskaplike vlak gehou. Ek is so dankbaar oor ons vriendskap, want nou ken ons mekaar regtig goed. Soms sit jy jou beste voetjie voor in ’n verhouding en eers later kom die ware jy uit, maar ek en Bennie is al klaar daardeur en ons kan net wéés. Ek is mal oor ons verhouding, want ons is eerlikwaar beste maats, wat lekker saam kan lag en speel, maar ook mal verlief is. Dis die lekkerste lekker; dis so lig.

Wat is jou raad aan meisies wat wil trou?

’n Verhouding is ook nie alles nie; ek wil regtig elkeen aanmoedig om jou lewe te geniet en die beste van alleen wees te maak. Gaan ontmoet mense en beleef uitdagende avonture. Moenie net daarna streef om in ’n verhouding te wees nie. Geniet jou lewe en vertrou dat die Here die regte persoon op die regte tyd vir jou sal stuur. My verhaal gaan nie soos joune wees nie, maar wat ek wel uit vorige verhoudings geleer het, was om die Here nommer een te maak − en dit is wat hierdie jaar gebeur het. Ek was rustig en het nie net gereageer omdat ek bang was om alleen te wees nie; ek het gaan uitvind wat ek in ’n man en in ’n verhouding wil hê. Die belangrikste van alles is, ek het die Here daarmee vertrou.