Casablanca Manor Resepte

Marokkaanse ontbyt vir twee

Bestanddele

2                      eiers

205 g                boontjies in tamatiesous (halwe blikkie)

205 g                botterbone (halwe blikkie)

205 g                nierbone (halwe blikkie)

5 ml                  fyngekapte knoffel

2,5 ml               Marokkaanse speserye

30 ml                botter

Sout en peper

125 ml  vars gekapte koljander

Metode

  • Bak die eiers na smaak.
  • Meng al die bone.
  • Braai die knoffel en speserye in die botter, voeg nou die bone by en braai vir 5 minute.
  • Voeg die helfte van die koljander by die bone, braai vir nog 2 minute.
  • Plaas die bonemengsel in ’n pastabord met die gebakte eier bo-op en die res van die koljander as garnering.
  • Dien op met roosterbrood.

Franse roosterbrood met ’n kinkel

Bestanddele

2                      eiers

125 ml             melk

Knippie            kaneel

3                      gekapte basiliekruidblare

1,25 ml            olyfolie

125 ml             gekapte spek

10 ml               botter

2,5 ml              olie

2                      snye brood

4                      skywe tamatie

30 ml               roomkaas

10                    bessies (aarbeie, moerbeie, bloubessies), in die helfte gesny

125 ml             heuning

Metode

  • Klop eiers, melk en kaneel saam.
  • Meng die gekapte basiliekruid en olyfolie.
  • Braai die gekapte spek.
  • Verhit die botter en olie in ’n pan.
  • Doop die brood in die eiermengsel en plaas dan in die verhitte pan om aan altwee kante te braai.
  • Sny die tamatieskywe in repe.
  • Meng die tamatie, basiliekruid, olyfolie en roomkaas.
  • Smeer die roomkaasmengsel op die brood en voeg die gekapte spek by. Maak ‘n toebroodjie met die twee snye en sny in driehoeke.
  • Plaas die broodjie in ’n diepbord, rangskik die bessies saam met die broodjie en giet die heuning oor, na smaak.
  • Garneer met ’n basiliekruidblaar.

Wafels met bessies en jogurt

Bestanddele

500 ml             koekmeel

5 ml                 sout

20 ml               bakpoeier

30 ml               wit suiker

2                      eiers

75 ml               gesmelte botter

5 ml                 vanieljegeursel

375 ml             warm melk

Bessies

125 ml             jogurt

Heuning

Metode

  • Meng die droë bestanddele in ’n mengbak.
  • Voorverhit die wafelpan.
  • Klits die eiers, botter, vanieljegeursel en melk saam.
  • Giet die melkmengsel in die meelmengsel en meng goed.
  • Smeer die wafelpan met botter en giet die mengsel daarin.
  • Bak tot goudbruin en bros.
  • Dien op met opgesnyde bessies, jogurt en heuning na smaak.

 

Rogroosterbrood met geposjeerde eier, salm, krap en romerige kaassous

Bestanddele

2                      sprietuie

½ blikkie           krap of vars krap

3                           skywe gerookte salm

½ bakkie           roomkaas

Halwe               suurlemoen, in kwarte gesny

Sout en peper

1                      sny rogbrood

1                      eier, geposjeer

60 ml                mosterd-en-heuning-slaaisous

6                      kappertjiesade

Metode

  • Kap die sprietuie fyn.
  • Sny die salm en krap in klein stukkies.
  • Meng die krap, salm, sprietuie, roomkaas, 2 skyfies van die suurlemoen se sap, sout en peper.
  • Rooster die rogbrood.

Dien die dis soos volg op:

  • Plaas die geroosterde rogbrood op ’n bord, sit die geposjeerde eier en dan die salm-en-krap-mengsel bo-op.
  • Giet die heuning-en-mosterd-sous bo-oor en versier met die kappertjiesade en 2 skyfies suurlemoen.

Hummus, baba-ganoesj met rogbrood en mieliepit-en-tamatie-slaai

Hummus

Bestanddele

205 g                kekerertjies (halwe blikkie chickpeas)

205 g                botterbone (halwe blikkie)

1                      vars knoffelhuisie

Sout en peper

Olyfolie

Metode

  • Voeg al die bestanddele in ’n versapper en voeg olyfolie na smaak by om ’n smeerbare tekstuur te kry.

Baba ganoesj

Bestanddele

1                      eiervrug

15 ml                olyfolie

1                      knoffelhuisie (opsioneel)

Sout en peper

1,25 ml             komyn

100 ml              room

Metode

  • Sny die eiervrug deur die lengte in die helfte en smeer met olyfolie.
  • Bak die eiervrug met vleiskante na bo, in die oond by 180 °C, vir 45 minute of tot sag.
  • Laat die eiervrug afkoel.
  • Voeg nou al die bestanddele in ’n versapper en meng tot ’n smeerbare tekstuur. Voeg nog olyfolie by indien nodig om die tekstuur reg te kry.

Slaai

Bestanddele

125 ml              vars koljander

210 g                mieliepitte

6                      kersietamaties

Slaaisous na smaak

Metode

  • Kap die koljander fyn en meng met die mielies en die kersietamaties wat in die helfte gesny is.
  • Voeg slaaisous by.

Dien op met bruschetta of pitabrood.

Bierbeslagvis met Tartaarse sous en jong aartappeltjies

Bierbeslag

Bestanddele

1 blikkie            bier

2,5 ml               bakpoeier

1                      eier

Knippie             borrie

2                      stukke stokvis

250 ml              koekmeel

100 ml              melk indien nodig

Kookolie vir diepbraai

Metode

  • Meng die bier, bakpoeier, eier en borrie om ’n loperige beslag te verkry.
  • Plaas die stokvis in die koekmeel; maak seker dat altwee kante goed bedek is.
  • Doop die vis nou in die beslag en plaas dan direk in verhitte olie.
  • Bak tot goudbruin aan albei kante.

Jong aartappeltjies

Bestanddele

 

8                      jong aartappeltjies

5 ml                  sout

5 ml                  peper

100 ml              botter

Metode

  • Skrop die jong aartappeltjies en kook dan tot sag.
  • Net voor jy opdien, druk met jou duim tot die aartappels oopbars.
  • Dien op met sout, peper en botter.

Tartaarse sous

Bestanddele

15 ml                kappertjiesade

1                      rooi soetrissie, gerasper

250 ml              vars pietersielie, fyngekap

250 ml              mayonnaise

Metode

  • Meng al die bestanddele goed.
  • Dien die vis saam met die jong aartappeltjies op, met die Tartaarse sous in ’n aparte bakkie met ’n skyfie suurlemoen en vars pietersielie as garnering.

Frikkadelle met kekerertjies en koeskoes

Frikkadelle

Bestanddele

 

500 g                gemaalde beesvleis

Sout en peper na smaak

5 ml                  gekapte olywe

2,5 ml               knoffel, fyngekap

5 ml                  fyngekapte pietersielie

15 ml                gekrummelde fetakaas

125 ml              broodkrummels

1                      eier

Olyfolie om in te bak

Metode

  • Voorverhit die oond tot by 180 °C.
  • Meng al die bestanddele goed en indien dit te droog is, voeg ’n bietjie melk by.
  • Vorm balletjies so groot soos wat jy wil gebruik; ’n eetlepelvol van die mengsel is gewoonlik die ideale grootte.
  • Spuit ’n oondbak met olyfolie of Spray & Cook.
  • Bak vir 10 minute. Skud dan die bak dat die balletjies rol en bak vir nog 5 minute.

Koeskoes

Bestanddele

500 ml              gaar koeskoes

¼                      ui, fyngekap

¼                      soetrissie, fyngekap

Sout en peper na smaak

7,5 ml               olyfolie

Knippie             knoffelpoeier

3                      takkies vars koljander

10                    jong sampioentjies

4                      jong beetjies

205 g                kekerertjies (halwe blikkie chickpeas)

Metode

  • Stoom die jong beetjies tot sag.
  • Sny in kwarte.
  • Meng al die bestanddele saam behalwe vir die beet.

Skep die koeskoes op ’n bord met die frikkadelle bo-op en garneer met die jong beetjies.

Hoender-en-groente-pastei

Bestanddele

1 pak                filodeeg

Vulsel

1                      mediumgroot hoender

6                      naeltjies

1                      ui, geskil

1                      wortel, geskraap

2                      lourierblare

1 blokkie           hoenderaftreksel

6–8                   peperkorrels

250 ml              gemengde groente

30 ml                botter

Sous

55 g                  botter

55 g                  meel

250 ml              volroommelk

Metode

  • Plaas die hoender in ’n groot pot. Druk die naeltjies in die uie en voeg dit in die pot met die wortel, lourierblare, aftrekselblokkie en peperkorrels. Bedek met koue water en laat kook, verlaag dan die hitte en laat prut totdat die hoender gaar is. Dit sal ongeveer 45 minute – 1¼ uur duur, afhangend van die grootte van die hoender.
  • Wanneer die hoender gaar is, haal die pot van die hitte af. Haal die hoender uit en plaas dit op ’n bord. Sit die pot weer op die plaat en laat die vloeistof tot ongeveer 250 ml wegkook. Giet die gereduseerde vloeistof in ’n bak en laat afkoel, skei dan die vet af, gooi weg en behou die aftreksel.
  • As die hoender koel genoeg is om te hanteer, sny die vleis in stukke.
  • Haal die naeltjies uit die ui, sit die ui in ’n voedselverwerker met die gereserveerde aftreksel, meng tot glad, voeg dan die melk by en hou eenkant.
  • Panbraai die groente met 30 ml botter en sout en peper na smaak
  • Smelt die botter in ’n pan en roer die meel daarby. Voeg die aftreksel en melk geleidelik by en laat dit kook, terwyl jy aanhoudend roer. Verlaag die hitte en laat 4−5 minute prut om die meel te laat gaar word. Geur na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper en vou dan die vleis en groente saggies in die sous. Sit die mengsel eenkant om af te koel.
  • Voorverhit die oond tot 180 °C. Rol twee-derdes van die deeg uit, gebruik dit om ’n  20−25 cm-tertbord uit te voer en vul met die afgekoelde hoendermengsel.
  • Rol die oorblywende deeg uit om die tert mee te bedek, borsel die rand met geklitste eier en knyp die rande saam om te seël.
  • Versier die bokant van die tert met blare gemaak van stukkies deeg en verf dit met geklitste eier. Maak ’n gaatjie in die middel sodat die stoom kan ontsnap en bak dit dan in die voorverhitte oond vir ongeveer 45 minute, of totdat die deeg goudbruin is.

Marokkaanse hoender met suurlemoen en olywe op koeskoes met kekerertjieslaai

Bestanddele

5 ml                  paprika

5 ml                  fyn komyn

1,25 ml             rooi peper

2,5 ml               fyn gemmer

2,5 ml               fyn koljander

1,25 ml             fyn kaneel

10 ml                   sout

5 ml                    swart peper

1                      suurlemoen

5                      knoffelhuisies, fyngekap

8                      hoenderborsies met die vel aan

15 ml                olyfolie

1                      groot ui, gehalveer en in skyfies gesny

30 ml                koekmeel

435 ml              hoenderaftreksel

30 ml                heuning

2                      groot wortels, geskraap en dwars gesny

125 ml              ontpitte groen olywe, gehalveer

30 ml                vars gekapte koljanderblare

Metode

  • Meng die speserye in ’n klein bakkie en hou eenkant.
  • Skil die suurlemoen. Meng 5 ml suurlemoenskil met 1 fyngekapte knoffelhuisie; hou eenkant.
  • Geur albei kante van die hoenderstukke met sout en peper. Verhit die olie in ’n groot swaarboompot oor mediumhoë hitte. Verbruin die hoenderstukke met die velkant na onder in ’n enkellaag tot diep goudbruin, ongeveer 5 minute; draai die hoenderstukke met ’n tang om en verbruin die ander kant, nog ongeveer 4 minute. Plaas die hoender op ’n groot bord; as dit koel genoeg is om te hanteer, trek die vel af. Giet alles behalwe 1 eetlepel vet uit die pot en hou hierdie sous eenkant.
  • Verlaag die hitte tot medium. Voeg die ui by en kook, roer af en toe totdat dit aan die rande verbruin het, maar steeds vorm behou, 5 tot 7 minute (voeg so nou en dan ’n paar eetlepels water by as die vloeistof te donker word).
  • Voeg die speserye en meel by en kook terwyl jy aanhoudend roer, tot geurig en goudbruin.
  • Roer die sous, hoenderaftreksel, heuning, oorblywende suurlemoenskil en 1,25 ml sout by en skraap die bodem van die pan met ’n houtlepel om die bruin stukkies los te maak.
  • Sit die verbruinde hoender (met opgehoopte sappe) terug in die pot, verlaag die hitte tot mediumlaag, bedek en laat dit vir 10 minute prut.
  • Voeg die wortels by, bedek en laat prut totdat die hoender gaar is en die wortels sag maar bros is, nog ongeveer 10 minute.
  • Roer die olywe, suurlemoenskil-knoffel-mengsel, koljander en 15 ml suurlemoensap by; proe die sous en pas die geurmiddels aan met sout, peper en nog suurlemoensap, indien nodig.
  • Sit voor saam met koeskoes en kekerertjieslaai.

Geroosterde hoenderjaffel met macaroni en kaas

Bestanddele

250 g                pasta (penne)

2                      eiers

250 ml              room

5 ml                  fyn knoffel

Knippie             Marokkaanse speserye

1                      ui

1                      geroosterde hoenderborsie, ontbeen en fyngekap

1                      tamatie

250 ml              gekapte spek

Sout en peper

4                      snye brood

250 ml              gerasperde kaas

Metode

  • Kook die penne soos op die pakkie aangedui.
  • Dreineer, spoel af en laat staan.
  • Klits die eiers, room, knoffel en speserye saam.
  • Kap die ui en tamatie fyn.
  • Meng die pasta met die tamatie en uie, hoender, spek en eiermengsel.
  • Plaas in ’n oondbak en bak by 180 °C vir 30 minute of tot die eier gestol is.
  • Verhit die jaffelpan.
  • Voer die jaffelpan met 2 snye brood, skep die helfte van die pastamengsel daarin en voeg kaas by.
  • Bak oor ’n oop vlam tot bruin.
  • Dien op met  aartappelskyfies.

Osso bucco op basmatiese rys en soet wortels

Bestanddele

6                      kalfskenkels, 2,5−3 cm dik

sout en varsgemaalde swart peper na smaak

125 ml              koekmeel

60 ml                ekstra-suiwer olyfolie

15 ml                ongesoute botter

750 ml              geel uie in blokkies gesny (ongeveer 2 mediumgroot uie)

250 ml              seldery in klein blokkies gesny (ongeveer 2 stingels)

185 ml              wortels in klein blokkies gesny (ongeveer 2 klein wortels)

5 ml                  gedroogde oreganum

185 ml              droë witwyn

30 ml                tamatiepasta

1 blikkie            Italiaanse pruimtamaties, gedreineer en gekap, sap eenkant gehou

250 ml              hoenderaftreksel met sout; meer indien nodig

1 groot             takkie tiemie

1                      lourierblaar

30 ml                pylwortel gemeng met 10 ml aftreksel of water

45 ml                fyngekapte vars platblaarpietersielie

2                      groot knoffelhuisies, fyngekap

15 ml                fyngerasperde suurlemoenskil

2                      ansjovisfilette, fyngekap

Metode

  • Verhit die oond tot by 180 °C.
  • Bind die kalfskenkels in die middel met kombuistou (as dit nog nie vasgebind is nie) en geur dit met sout en peper. Sit die meel in ’n skottel. Dompel die skenkels baie liggies in die meel en skud die oortollige meel deeglik af.
  • Gebruik ’n braaipan of oondbak groot genoeg om die skenkels in ’n enkellaag te bevat. Verhit 45 ml olyfolie in ’n groot pan oor mediumhoë hitte. Sit drie kalfskenkels in die pan en skroei aan albei kante tot mooi bruin, 2 tot 3 minute per kant. Sit die skenkels in die braaipan. Herhaal met die oorblywende drie skenkels.
  • Giet die olie in die pan versigtig af en vee dit uit met papierhanddoeke (dit is goed as die bruin stukkies in die bodem van die pan bly; vee net die gebruikte olie weg). Sit die pan weer op matige hitte en voeg die botter en die oorblywende 15 ml olyfolie by. Wanneer die botter gesmelt is, voeg die ui, seldery, wortels, oreganum en 5 ml sout by. Kook die groente, roer af en toe vir 15 tot 20 minute tot sag en ligbruin. Verhoog die hitte tot mediumhoog, voeg die wyn by en kook, en skraap enige bruin stukkies met ’n houtlepel los totdat die wyn weggekook het tot ongeveer 60 ml, ongeveer 3 minute.
  • Roer die tamatiepasta by. Voeg die tamaties met hul sappe, die hoenderaftreksel, tiemie, lourierblaar, 2,5 ml sout en ’n paar swartpeperkorrels by. Laat dit kook en giet dan die inhoud van die pan oor die skenkels. Bedek dit met swaar aluminiumfoelie.
  • Braai die kalfsvleis in die oond tot dit vurksag is, 1 ½ tot 2 uur, en kyk af en toe na die vloeistof. As dit afgekook het, voeg genoeg vloeistof by om die vloeistofvlak ongeveer halfpad teen die skenkels te hou. Steek ’n skenkel met ’n vurk om te sien of dit reg is. Die vleis moet maklik uitmekaar trek. Proe ’n stukkie − dit moet sag voel, maar moenie te gaar wees nie, anders val die kalfsvleis uitmekaar.
  • Borsel die meeste groentestukkies saggies van die skenkels af. Plaas die kalfsbene versigtig met ’n wye, plat metaalspaan op ’n skottel. Syg die pansappe deur ’n mediumgaassif in ’n kastrol en druk hard met ’n spatel op die vaste stowwe wat in die sif agterbly om soveel moontlik sous uit te haal. Laat die sous prut. Klits die pylwortelmengsel by en kook dit vir ’n kort rukkie om te verdik.
  • Geur die sous verder met pietersielie, knoffel, suurlemoenskil en ansjovis en dien dit op in ‘n souspotjie.

Sjokolade-brownies

Bestanddele

500 ml              wit suiker

125 ml              kakaopoeier

375 ml              koekmeel

2,5 ml               bakpoeier

2,5 ml               sout

4                      eiers

250 ml              gesmelte botter

5 ml                  vanieljegeursel

125 ml              pekanneute / okkerneute

Metode

  • Voorverhit die oond tot by 175 °C .
  • Smeer ’n bakpan van 22 cm x 30 cm.
  • Meng al die droë bestanddele in ’n mengbak.
  • Meng die eiers en gesmelte botter en vou die droë bestanddele in; meng goed.
  • Voeg die beslag in die oondpan en versier met die neute.
  • Bak in die oond vir 20 tot 30 minute.
  • Laat op ’n draadrak afkoel.
  • Sny in blokkies en geniet met vars room of roomys.

 

 

Notice: Trying to access array offset on value of type bool in /usr/www/users/weddiny/wp-content/plugins/ds-suit/includes/modules/MasonryGallery/MasonryGallery.php on line 447